Inry toe

Oktober 30, 2007

Ek en my seun gesels die naweek oor al my dinge toe ek jonk was (sic!) En op ‘n staduim noem ek die woord “Inry” Hy vra wat is dit, ons het daaroor al gesels maar hoe werk dit in so ‘n plek.

Hoe werk dit in so ‘n plek … wonder ek stilweg? Kan jy onthou??

Ek onthou daardie jare was dit die inding waar ek groot geword het – Brits – om Harties toe te gaan, Hartebeespoort Inry toe!  Dit was nou op ‘n Saterdagaand. Ma pak toebroodjies in, en daar spring ek en my suster in die bakkie. Gewoontlik is daar ook vriende saam. Wie eerste kom, ‘hou plek’ langs hom/haar dat ons saam fliek kyk.

As jy groot genoeg is, kan jy gaan swing daarvoor by die skerm. Tot die ligte begin flits teen die skerm dan spanner jy terug motor toe en kyk met afwaging na volgende week se voorprente. Moenie SA spieël vergeet nie, miskien ‘n uittreksel uit verlede week se rugby wedstryd Springbokke teen Britse Leeus … praat ek hier van 1974?

Pause breek aan, en dan is dit ‘n geëet in die motor en die kos word heen en weer aangebied na die voertuig langs ons s’n. (ons is mos saam) En hulle kos beland ook op jou papier bordjie. Dan loop daar mense ook rond om kos in mandjies te verkoop, toebroodjies, koeldranke, chips ens.

Maar nou het jy groter geword, en gaan self Inry toe …. met jou girltjie! Nou wat ek nou nog nie kan verstaan, hoekom het my eerste Volla se vensters toe gewasm en my ma se bakkie s’n nooit?